NID vier 143 jaar diens aan Dowes
Recent Posts
Categories
Archives
Op 15 Junie vier die Nasionale Instituut vir Dowes (NID) op Worcester 143 jaar diens aan Dowes en persone met gehoorverlies. Die NID se visie bly onveranderd – Die holistiese ontwikkeling van die volle potensiaal van persone met gehoorverlies in Suid-Afrika deur noodsaaklike kwaliteit-dienste aan hulle te lewer. Dít word bereik deur dienslewering aan Dowe begunstigdes in twee afdelings.
Vreugde. Tevredenheid. Familie. Tuiste. Dít is die gevoel wat jou begroet by NID se Sorg-afdeling. Ten spyte van gestremdhede, beperkinge en uitdagings, word jy hartlik verwelkom deur die 43 meervoudig-gestremde en 33 bejaarde dowe inwoners wat hier tuis gaan. NID bied ‘n holistiese, terapeutiese en veilige omgewing wat die unieke behoeftes van hul inwoners ondersteun. Hier kan elke inwoner floreer binne ‘n vreedsame en doof-vriendelike omgewing. Terapeutiese aktiwiteite en ontwikkelingsprogramme bevorder selfvertroue en individuele groei onder inwoners. Toegewyde personeel versorg en ondersteun hulle daagliks in ‘n liefdevolle huislike atmosfeer wat ook in hul unieke kommunikasiebehoeftes voorsien. Dit is ‘n wenresep wat met liefde, deernis en passie gevolg word om te verseker dat elke kosbare inwoner tot sy of haar volle potensiaal ontwikkel.
Geen bron van inligting en kennis moet ontoeganklik wees vir Dowes en persone met gehoorverlies nie. Die NID Gebaretaalsentrum bedien beide die Dowe en die horende gemeenskappe deur SAGT inhoud te ontwikkel, toeganklikheid te bevorder en deur navorsing in Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SAGT) te doen. Die doel van hierdie departement is om die lewens van dowes te verbeter deur hulpbronne te skep vir enigiemand om SAGT te kan leer, en sodoende kommunikasie-hindernisse op talle klein en groot maniere uit die weg te ruim. Projekte soos die Aanlyn SAGT en Leerlinglisensie kursus, asook die Aanlyn SAGT Video Woordeboek en Geletterdheidsprojek vir Dowe leerders, lok groot belangstelling en het al reuse sukses behaal.
NID se 143-jaar mylpaal is egter nie moontlik sonder die oop harte en hande van mense nie. As nie-winsgewende organisasie, word NID gedra deur die geloof en omgee van kosbare vennote en vriende. NID sê baie dankie aan elkeen wat met hulle hande vat en die pad saam met hulle stap.
Vir meer inligting of as u graag by NID betrokke wil raak, kontak ons gerus by fr.nid@nid.org.za. Indien u graag ‘n bydrae wil maak ter viering van NID se 143 jaar van diens aan Dowes, kan ‘n oorbetaling gemaak word aan: NID Ontwikkeling, Absa Bank, Rek 911 845 2209, Tak 632 005, Verwysing: 143 (naam en van). Kontak ons ook gerus vir ‘n behoeftelys ten bate van ons meervoudig-gestremde en bejaarde Dowe inwoners.